Meer as net familie: Elouise & Alexis se groot dag!


Daar is iets ontsettend spesiaal aan ’n troue waar die mense voor jou lens nie net familie is nie, maar ook hartsvriende. Elouise is my man se suster se dogter, maar sy en Alexis voel vir ons soos sielsgenote uit ’n jonger generasie. Om hul troudag af te neem, was dus veel meer as net ’n voorreg—dit was ’n voorsitplek by die begin van hul mooiste hoofstuk.


Wat my die meeste bygebly het, is dat Elouise en Alexis twee van die mooiste kinders van Jesus is wat ek ken. Hulle het die dag met soveel hemelse vrede aangepak; ’n mens kon dit sommer aanvoel in die atmosfeer. Al het hulle die hele dag omtrent net oë vir mekaar gehad, het hulle elke gas met soveel liefde en deernis hanteer, asof dit vir elkeen van ons ook ’n spesiale dag was.


Natuurlik sal ons nie sommer die oomblik vergeet toe my seuntjie, Kaleb, die ringe moes inbring nie. Terwyl die twee besig was met hul geloftes aan mekaar, het Alexis se ring per ongeluk uit sy handjies geglip en met ’n vaart vorentoe gerol! Toe dit tyd word vir die amptelike uitruil van die ringe na die geloftes, het die pastoor vir Kaleb gevra om die ringe te bring en sommer bygevoeg dat die ringe maar vorentoe gerol mag word. Dit was ’n oomblik van pure deernis wat net weer gewys het hoe ongedwonge en vol vreugde hierdie dag en hierdie familie is.


Elouise en Alexis, julle energie is aansteeklik en julle liefde is opreg. Dankie dat ek hierdie kosbare herinneringe saam met julle kon vaslê. Dit was ’n eer om te sien hoe julle jul huwelik op so ’n mooi fondament begin.


Hier is ’n paar van my gunsteling oomblikke van hul troudag: